Thursday, April 28, 2011

Die pyn van die stad

Elke dan en wan as ek huis toe ry na werk, is daar 'n sekere man wat my veilige, sorgelose bestaan laat bevraagteken. Die man wat ek in my kop gedoop het as "Nakedness". Sy bene is die van stokkies, hy sit in 'n rystoel en bedel geld, terwyl hy vir almal glimlag, of jy nou geld gee of nie.

In hom sien ek pyn, eenvoud, waarheid, eensaamheid en verwerping. Deur sy teenwoordigheid word ek gekonfronteer met alles wat ek is en nie is nie, na dit wat ek het en dit waarna ek smag. Hoe maak 'n mens sin hiervan?

Wat is die man se storie, hy het geen heenkome nie? Ek het hom al 5h45 in die oggend gesien op die hoek waar hy in sy rolstoel slaap met 'n kombers oor die kop.

Waar begin mens help? Om ongemaklik te voel bly net by veilige emosies.

"Truly I tell you, whatever you did for one of the least of these brothers and sisters of mine, you did for me" Matt 25:40


Friday, March 4, 2011

Spieëlbeeld

Terwyl ek vir jou sit en wag, stap die dae in tiene verby.
Ek bondel hulle in groepies van vyf en sien skielik hoe 30jaar in die hoek sit en lag.

Ek nooi toe maar die bondel jare vir 'n ou koppie Nescafe koffie. Ons kuier oor ditjies en datjies, oor verlede en hede, maar niemand rep 'n woord oor die toestand van die toekoms nie. Nee, dis mos verbode praat die, want wie weet nou eintlik.

Ons lag binnensmond oor die geraamtes van gister en die spoke van morê. Jy groet verleë en sê jy sien my weer oor tien jaar, dalk is ons dan drie!!!